BLOG

Search
  • Germandt Geldenhuys

Voel Ek Ook Fancy

Updated: Nov 24, 2018

In my kinderjare het ons nooit vreeslik geld gehad nie. Dis nie dat ons arm was nie, ons was maar net nie middelklas nie en ook nie ryk nie.

My pa was immers in die bediening en niemand betree die bediening vir die geld nie. Daarvan kan ek (en duisende ander pastorie-kinders) getuig. Goed, miskien is dit die geval vir sommige van daardie groot evangeliste in Amerika. Jy ken hulle mos: die wat lyk of hulle so twee dekades terug sonlig gesien het, twee dekades terug se modes dra en op trone sit wat Elizabeth 2 sal laat bloos. Hulle wat wonder watter storie hulle gaan moet spin om hulle volgende privaatvliegtuig te kan bekostig.

Daardie klas mense is die enigstes wat die bediening betree vir die geld, in my opinie.


Soos ek genoem het, ons Geldenhuyse was nie regtig arm nie, nee.

Die Coetzers was wél.

Oom Ben en Tannie Santie Coetzer het op ons dorp gebly en hulle was ook in my pa se gemeente. Oom Ben het 'n bril gedra so dik soos 'n Pyrex-bak en sy bleskop het altyd so effens geblink as die lig van die kerk se projektor hom so bolangs vang. Sy pak was gewoonlik uiters skoon, en gemaak van 'n dik, bruinerige, wollerige materiaal wat ek net kan beskryf as die tipe lap waaruit gordyne in Kanadese blokhutte soms gemaak word. Dis die tipe lap wat enige hitte, koue, ryp, dou, tornadoes, orkane, siklone, motreën, harde geluide, nagklanke, muskiete en selfs 'n kleuter buite kan hou. Hy was 'n stil man, wat soms net sy kop effens geknik het as hy saamstem met die preek wat my pa lewer. Ek was te jonk om te onthou wat sy presiese ambag was, maar sy hande het altyd 'n steenkool-skynsel gehad as ek hom Sondae in die kerk gesien het. Nooit vuil nie, net 'n skynsel.

Tannie Santie was, soos haar man, 'n onopvallende vrou met 'n oop gesig en 'n skaam glimlag. Sy was beslis 'n bietjie molliger as oom Ben, maar sy het vir my altyd baie gemaklik in haar klere gelyk. Dit kan moontlik ook wees omdat sy al haar klere erens gekry het as 'n skenking of 'n winskopie uit iemand se kattebak langs 'n besige pad. Tannie Santie is vaal gebore en sy het dit so aanvaar.


Oom Ben en Tannie Santie Coetzer was arm. Almal het dit geweet. Almal het maar gehelp waar hulle kon. Ek self het 'n lied of twee gesing by 'n fondsinsameling ten bate van 'n nuwe enjin vir hul enigste motor.

Daar was altesaam 5 kinders. Marius, Samuel (Sampie), Alida, Marie en André. Marius en Marie het uit oom Ben se eerste huwelik saamgekom en Sampie en Alida uit tannie Santie se eerste huwelik. Hulle huwelik het slegs vir André opgelewer - die laatlammetjie.

Marius en Samuel was beide in matriek toe ek die familie leer ken het, en Alida en Marie was in Graad 11 en Graad 9, onderskeidelik.

Marius het gaan studeer met 'n onderwys-beurs by Kovsies en Sampie het intussen homself as polisieman bekwaam en werk gekry in Port Elizabeth.

Alida het 'n voorliefde vir klassieke musiek ontwikkel al op 'n vroeë ouderdom en het gereeld by kerkbyeenkomste een of ander geliefde psalm op haar blokfluit verwoes. Marie was nie vreeslik skerp nie, en ek het later jare eers gehoor sy het baie ekstra takies verrig om matriek te kon slaag. Na 'n skei-saak en 'n dorp-skandaal is sy en die Wiskunde-onnie ook toe blykbaar landuit. Engeland toe.

André Coetzer was 11 jaar oud, soos ek, en saam my in die klas op laerskool. Sy kop was 'n vreemde vorm, maar verder was daar min aan hom wat enigsins uitgestaan het. Hy het blou oë en blonde hare gehad en ons onderwyser het op 'n keer na hom verwys as 'n voorbeeld van Hitler se Aryan-ras. André was nooit andersins uitgesonder nie.


Eenmaal 'n jaar, gewoonlik op die 26ste Desember, het die hele Coetzer-gesin in hulle motor (met 'n nuwe enjin te danke aan my weergawe van "Pie Jesu") gespring; geklee in hulle beste kerkklere. Oom Ben steeds in sy bruin wol, soos 'n moedswillige llama, Tannie Santie in 'n blomme-rokkie en die kinders se hare almal gekam en gesigte skoongevee. Hulle het nooit geld gehad deur die res van die jaar nie, maar eenmaal 'n jaar het oom Ben die gesin bederf met 'n feesmaal by die "Windy Café". Dan het die sewe van hulle geeët en gedrink en gekuier en gelag - van die oggend tot die aand.

André het eenkeer vir my gesê sy pa noem dit hulle "Fancy Dag"; die een keer 'n jaar wat hulle ook "fancy" voel soos die res van die dorp se mense. Daardie dag het hulle ook geweet wat rykdom beteken.

Toe ons in Graad 7 was het oom Ben egter sy werk verloor en tannie Santie moes allerlei gebak vanaf hulle huis verkoop om kop bo water te hou.

"Fancy Dag" het tot 'n einde gekom. Niemand het ooit weer die Coetzers se feesmaal en vieringe gesien nie.

My pa het gesê 'n feesmaal is seker nie so belangrik soos skoolklere en kruideniersware nie. My ma het gesê sy hoop darem dat hulle op een of ander manier nogsteeds "fancy" voel.


In my eerste jaar op universiteit het ek gereeld vakansies huis toe gegaan - meestal om wasgoed te vat en my ma se kos te eet. Dan het ek, drie weke later, weer teruggekeer Kaap toe met 'n bondel skoon klere wat my skielik nie meer pas na die vakansie nie.

Dis met een so vakansie dat my ma 'n bevlieging kry en besluit dat dit tyd is om ons sitkamer oor te doen - sonder om geld te spandeer. Sy het ou blikke verf gaan soek in die gereedskapskamer, 'n stok buite gaan pluk en verwoed twee of drie walglike kleure bymekaar gemeng om 'n skakering van pers te skep wat die wêreld nog nooit gesien het nie en moontlik nooit weer gaan sien nie.

Die kleur het my nog nie oorreed nie.

"Dis one-of-a-kind, seun, en ek like dit. Baie."

"Kom ons kyk maar as dit droog is."

Al was ek baie onhandig met 'n boor, moes iemand help gaatjies maak in die pers; daar sou blykbaar portrette skuif vanaf die gang na hierdie vertrek. Daarna moes die telefoon skuif vanaf die sitkamer na die kombuis toe en ek moes met 'n "glue gun" telefoonkabels teen plafonne vasplak - op die naat van my rug - soos Michelangelo wat die Sistine Chapel verf. Daarna wou sy die lig in die vertrek met 'n mooier kandelaar vervang. Hiermee kon ek haar egter nie help nie want al wat ek van elektriese strome af geweet het was dat sommiges in "serie" geloop het en ander in "parallel". Een soort was hoe mens dit moes doen en die ander was wanneer jy die dooie liggie op 'n rits Kersliggies soek.


"Ons moet maar vir oom Ben bel", het my ma uiteindelik gesê.

"Ja, ek dink dis beter so. Ma, ek's moeg. Ek gaan lê."

"Jy bly net hier en jy help my anders gaan jy self daai wasgoed van jou doen. Evelina is juis af hierdie week."

"Maar daar is niks waarmee ek kan help nie!"

'Hang maar net hier rond, dalk leer jy iets."

"Hoekom wag Ma nie tot Pa terug kom van die werk af nie? Hy kan dit mos doen."

"As ek vir jou pa moet wag, wag ek vir ewig. Bel vir oom Ben."


Oom Ben het gereeld vir my ma werkies in en om die huis gedoen en my ma het hom elke keer iets gegee vir sy moeite.

"So help ek daardie gesin, my kind. Ons almal help maar die Coetzers waar ons kan. Wanneer bring jy weer jou keyboard sodat ons kan konsert hou? Die hoërskool het nou 'n nuwe klankstelsel gekry."

Oom Ben het so halfuur later opgedaag en nadat my ma hom presies gewys het wat gedoen moet word het hy gretig aan die werk gespring. Ek het hom vir so 'n rukkie dopgehou, maar gou belangstelling verloor en myself toe heeltemal in 'n nabye boek gedompel. My ma het tee aangedra en uitgevra oor die res van die Coetzers.

Oom Ben was nie 'n man van vele woorde nie; sy antwoorde was beleefd maar beperk.

Toe die drade uiteindelik gelê is, en alles voltooi is, het oom Ben net vlugtig vir my gesê: "Ek dink dit sal nou werk."

Ek het my ma gaan roep sodat sy kon sê waar die nuwe portrette moes hang. Na 20 minute, met oom Ben se hulp, was ons klaar.

My ma het teruggestaan en haar handewerk bekyk. Sy was duidelik in haar noppies.

"Maak toe die gordyne en sit die lig aan. Ek wil sien hoe dit in die aand gaan lyk."

"Ma..."

"Seun, doen dit net."

Gordyne toe, lig aan.


Vir 'n oomblik of twee (of drie) was daar absolute stilte. Nie een van ons het regtig woorde gehad nie want dit het mooi gelyk. Dit het bitter mooi gelyk.

Die lig wat vanaf die kandelaar afgespring het en gedans het op die oorkantste muur, tussen deur die landskappe en gesigte wat in die rame gepronk het. Die onooglike telefoon wat nou uit die pad geruim is. Die pers muur wat 'n nuwe warmte aan die vertrek gegee het.

Dit was oom Ben wat eerste die stilte gebreek het. Hy het keel skoongemaak.

Ek het omgedraai en ek kon sweer daar was trane in sy oë.

"Dis mooi, né oom?"

"Nou ja, ek moet seker by die huis kom", het hy vinnig en sag gesê.

"Wag, Ben, ek wil eers vir jou iets gee vir jou moeite."

"Dis nie nodig nie, mevrou."

"Ek wil graag, Ben."

My ma het 'n R100-noot in sy hand gestop. Hy het 'n rukkie lank daarna gestaar. Toe kyk hy stadig na die half-vol blik oorblywende pers verf wat eenkant op 'n koerant gestaan het.

"Mevrou, hoeveel kos so blik verf omtrent?"

"Ek is nie seker nie, Ben, maar ek skat seker so R90."

Ben se glimlag het gestrek van oor tot oor en met dit, sê hy totsiens en ry weg.

Ek het nie veel daarvan gedink nie. Al waaraan ek kon dink was die hoeveelheid gereedskap wat ek sou moes wegpak.

Drie dae later ry ek per toeval by hulle huisie verby en sien dat die hele voorkant nou geel geverf is - 'n geel wat met die son kan meeding vir helderheid. Soos die geel van 'n organiese eier.

Buite, onder die enigste boom, sit oom Ben en tannie Santie op stoele en bak rustig in die son.

"Ma, het ma die Coetzers se huis gesien?"

"Ek het."

"Mens sou dink dat arm mense belangriker goed het om geld op te spandeer as verf."

My ma het voor haar pers muur gaan staan; vir 'n paar sekondes was sy stil.

"Wanneer ek enige iets in my huis doen: 'n lig regmaak, 'n muur verf, 'n voetstoeltjie oortrek, 'n raam ophang, gordyne hang, 'n kassie verf of sommer net 'n gaatjie met Polyfilla toemaak - voel ek vervuld. Moenie vir jou pa sê nie, maar geen van sy preke het my al ooit so naby aan die hemel gebring nie. Daar is niks wat my so gelukkig maak soos om iets aan my huis te doen of te verbeter nie. As ek 'n muur kan oorverf, voel ek sommer soos 'n ryk vrou. Ek dink oom Ben het dit nou die dag ook besef: een verfblik kan jou soos 'n koning laat voel."


Amper twintig jaar later sit ek vanaand in my woonstel en besluit hoe ek 'n paar rame gaan moet hang om 'n leë muur toe te maak. Ek beplan, ek gaan haal my (skamele) gereedskapskis, ek begin meet en boor en kap en ophang. Die laaste raam gaan teen die muur op. Ek wil uit my vel spring. Skielik besef ek wat my ma haar hele lewe lank weet: DIY staan eintlik vir "Do-It-For-Yourself".

Deesdae, wanneer ek gaan kuier, is haar huis elke keer 'n openbaring. 'n Nuwe kandelaar of 'n nuwe kassie of 'n nuwe muurkleur. Dan weet ek: sy't weer erens hierdie week 'n "Fancy Dag" gevier.


En so, vir die prys van 'n paar spykers en skroewe, voel ek vanaand ook ryk. Voel ek ook fancy.


Die Coetzers bly blykbaar almal nog op die dorp. Marius is nou adjunk-hoof by die hoërskool en hy en sy lewensmaat, Paul, is glo baie gelukkig.

Sampie is nogsteeds net 'n sersant, al doen hy gereeld aansoek vir bevordering. Sampie blameer BEE; die kaptein blameer Sampie se drankprobleem.

Alida bly nou agter in 'n tuinwoonstel op dieselfde erf as haar ouers. Hier gee sy musieklesse aan jong kindertjies wat graag Psalm 23 op 'n blokfluit wil leer. Die Coetzers het al vir jare nie bure nie.

Marie kon die Britte nie verdra nie en het toe sonder die onderwyser teruggetrek na haar ouerhuis toe waar sy nou 'n nael-besigheid in die voorportaal bestuur. Die onnie se eks-vrou is een van haar kliënte.

André rig rugby af by die plaaslike rugby-klub. Sy verloofde, Lindiwe werk as rekenmeester by die supermark en praat vlot Afrikaans, Sotho en Engels.

Hul seuntjie, Kagiso, het blonde krulhare, blou oë en 'n bruin vel. Hy trek aandag oral waar hy gaan. André is baie trots.


En oom Ben en tannie Santie?

Hulle sit nog al die jare onder daardie boom, rustig in die son, reg voor die muur. En daardie muur is ook al lankal nie meer geel nie - nee, hy was al elke kleur in die reënboog.

Ek hoor hulle wil hom hierdie jaar miskien pers verf.


~Germandt Geldenhuys





448 views2 comments

© 2018 - Sparrow Media

  • White Instagram Icon