BLOG

Search
  • Germandt Geldenhuys

Jy Sal Weet As Jy Dit Voel


"Nee maar regtig nou... hoe gaan dit met jou?", vra sy, die sigaret rus gemaklik tussen haar twee lenige vingers.


Die lug bo haar kop is golwend met vlae dik tabakrook.

Sy mag nie régtig hier rook nie, maar die kelner was haar goedgesind.

(Dit is drie-uur die middag en ons is die enigste klante).

"Moet net nie vir my baas vertel nie", het die kelner speels gevra.

Ons sit in my gewone boerplek, 'n beskeie kuierkroeg in Linden waar die bestuurder my op die naam ken en die kroegman presies weet hoe ek my whiskey drink.

('n Dubbel oor ys met vier eetlepels yswater, terloops.)

Ons sit langs 'n groot venster, die son stroom in en plak vas teen die groot blare van die vyf of ses philodendron-plante wat rondom ons floreer.

Alles in hierdie plek pronk met 'n speelse, ironiese pretensie. Net genoeg sodat mens weet dit is trendy, maar min genoeg sodat dit amper voel soos 'n inside joke.

So amper asof iemand halfpad deur die ontwerp-proses besef het dat hulle nie meer trendy wou wees nie, maar reeds alles aangekoop het.


Leana is my vriendin. Ons ken en verstaan mekaar al langer as wat enigeen van ons bereid is om te erken - al bly ons nie meer in dieselfde stad nie. Sy bly deesdae in die Kaap, ek in Johannesburg, wêrelde uitmekaar en, tog, is daar deurgans 'n toutjie wat ons verbind - 'n kosmiese konneksie, as sulks. Dis soos daardie speletjie wat ons gereeld gespeel het toe ons kinders was; die toutjie wat onderaan twee Koo-blikke vasgemaak word en dan as "telefoon" gebruik word. Al wat mens kan hoor is 'n dowwe, geblikte vibrasie en tog is dit genoeg - die wete dat iemand anders aan die anderkant staan en praat al verstaan jy nie aldag die geluide nie.

Ek verstaan nie aldag Leana se geluide nie, maar sy antwoord altyd die telefoon - letterlik en metafories.


Sy is nog net so beeldskoon soos altyd. Nie voorblad-van-die-Sarie-mooi nie, nee, daarvoor is sy te enig.

Haar skoonheid behoort aan skilders en musikante, filosowe en films uit die 60's. Trouens, haar skoonheid en bekoring het bitter min met haar voorkoms te doen. Dis 'n onbeskryflike element, 'n vraagteken, 'n enigma, 'n ongerepte wildernis. Dis 'n skattejag wat menigte mans al aangepak het op soek na antwoorde, net om met meer vrae kennis te maak.


Die kelner bring nog water en 'n skoon asbakkie.


Leana is deesdae min in Johannesburg, trouens, hierdie is die eerste keer in ongeveer 'n jaar-en-'n-half. Sy is eintlik op pad oorsee - 'n toer van Suidoos-Asië - en het besluit om 'n paar uur vroeër in te vlieg vanaf die Moederstad "sodat sy my kan sien". (Ek vermoed die feit dat iemand haar vanaf Lanseria tot by OR Tambo moes kry, was ook 'n motivering vir ons kuier). Ons het 'n kosbare paar uur en ek wil soveel as moontlik inhaal.


"Dit gaan goed. Moeg en bietjie besig, maar goed."

Haar wenkbrou verklap dat sy my nie heeltemal glo nie.

"Wat?", lag ek.

"Dis die tipe antwoord wat jy vir 'n kennis gee. Nie vir my nie."

Ek lag; sy is nie verkeerd nie.

"Ek weet nie, ek voel seker maar so bietjie... onseker. So effens verbysterd." Sy knik; sy beaam.

"Maar nie meer as gewoonlik nie", verdedig ek vinnig.

"En met die liefdeslewe?", sy trek weer aan haar sigaret.

"Sjoe, die whiskey is ongelooflik". Ek vermy oogkontak.

Nou lag sy. Die enkele fyn plooitjies langs haar oë verklap dat ons albei nader aan dertig beweeg.

"Dis hierdie stad. Jy weet dit, né? G'n mens kan waarlik gelukkig wees of liefde vind in hierdie rook-gevulde, glorified myndorp nie."

Ek grinnik.

Sy trek weer aan haar sigaret, druk hom dood en blaas 'n dik rookwolk bo haar kop uit. Sy maak keel skoon. (Dit beteken gewoonlik dat ek moet regmaak vir 'n monoloog).


"Ek sal nooit hier kan bly nie. Nooit nie. Die verkeer, die droogte, die fabrieke, die platheid, die gejaagdheid. Dis lelik, dis vuil. Hoe enige mens hier kan oorleef gaan my verstand te bowe. Almal is bang en verskrik, almal probeer wegkruip of weghol. G'n mens kan 'n lewe op 'n dooie mynhoop bou nie. Niks kan hier groei nie. Nie groenigheid nie, en ook nie mense nie."


"Ja, maar wat jy..."


"En boonop dit alles, het julle nie die berg nie. Ek, persoonlik, het die berg nodig. Dis waar ek my energie vanaf kry. As ek vir té lank weg is, raak ek angstig. Ek kalmeer eers weer as die vliegtuig land."

My gesig verklap my skeptisisme; sy bly nou presies 5 jaar daar.

"Nee, regtig! Ek het ook altyd gedink dis pretentious om so te dink, maar dis regtig waar. Dis 'n golflengte, 'n aura, dis moeilik om te verduidelik, jy sal weet as jy dit voel."


Sy vergeet dat ek vir sewe jaar van my kort lewe in die Kaap gebly het in 'n eenslaapkamer-woonstel in Seepunt se hoofstraat, aan die voet van Leeukop. In die sewe jaar wat ek daar gebly het, is hierdie iets wat ek gereeld gehoor het: die berg, die see, die berg, die wynlande, die berg, die strande, die berg, die landskap, die berg, die berg, die berg...

Die berg speel so 'n belangrike rol in baie Kapenaars se lewens dat dit ongewoon is om in die Kaap te bly en nie bewus te wees van die berg se "towerkragte" nie.

'Jy's so gelukkig om in die Kaap te kan bly',

'Jy is seker gereeld by die see, né',

'Die Kaap is darem maar net die mooiste plek, né?'

'As ek more kon trek, het ek'.

'Ek wens ek kon reg aan die voet van die berg gaan bly.'

Tydens my sewe jaar in die Kaap was Johannesburgers amper netso meegevoer deur die Kaap as meeste van die locals.


Selfs Tafelberg se webwerf het 'n gedeelte wat praat oor Tafelberg as een van 12 "energie-sentrums" wat regoor die wêreld voorkom. Dit beweer dat mense van verskeie geloofsgroepe glo dat die berg "magnetiese, elektriese en geestelike energie uitstraal". Daar word geglo dat elkeen van hierdie energie-sentrums een van die vier elemente verteenwoordig. Tafelberg verteenwoordig 'n "aardse-sentrum", terwyl die "lug-sentrum" erens tussen Egipte en Israel is. In Nieu-Seeland verteenwoordig Lake Rotopounamu die "water-sentrum" en die Haleakala-krater in Hawaii, die "vuur-sentrum".

Dis blykbaar waarom mens so ontspanne en verfris voel na jy die berg gaan uitklim het - dis goed vir vlees en siel.


Nog nooit vir my nie.


Die sewe jaar wat ek in die Kaap gebly het was van die moeilikste, eensaamste, donkerste, deurmekaarste en hartseerste jare van my (kort) lewe.

Ek was jonk, naief, oningelig, oorweldig, arm, oorwerk, eensaam en moeg.

Ek het nooit cool of interresant genoeg vir die Kaap gevoel nie - altyd soos 'n buitestaander wat gepaai word met hoflikheid, saamgenooi word omdat daar 'n plek oopgegaan het op nommer 99.

Met my spierwit vel, my sagte maag, my Mr Price-klere en my leë beursie het ek nêrens ingepas nie. Ek was nie 'n toeris nie, maar ook nie 'n local nie - moeilik om te plaas, moeilik om te leer ken.

Vir my was die Kaap-jare, grootliks, ook die ongelukkigste wat ek ooit gevoel het. Ek was vasgevang in 'n woonstel waar niemand ooit kom kuier het nie, vasgevang in 'n werk wat my jeug probeer steel het, vasgevang in die skadu van 'n berg wat my oorrompel het.

Die skadu het begin deursypel in alle aspekte van my lewe. Die duisternis het my gedagtes begin oorneem, my lyf, my hart.

Ek het my familie daagliks gemis, gesmag na betekenisvolle konneksies en gebid vir enkele strale lig om my net weer die son te laat voel.

As ek nou teruggaan Kaap toe vir werk, kry ek 'n knop in die keel sodra ek die berg sien. Vyf jaar later is ek nog elke keer bang die skadu sluk my weer in.


"Ons sal die rekening moet kry, anders gaan ons laat wees", onderbreek sy my gedagtegang. Ek glimlag en wink vir die kelner.


Ons ry op die hoofweë en sy babbel voort oor haar opkomende reise. Ek praat saam en probeer die stories volg, maar my kop staan nogsteeds aan die voet van die berg.

Voor my breek die toeter van 'n vragmotor my dagdroom en ek begin meer en meer oplet na die wêreld waarin ek myself tans bevind. My motor sweef oor die kronkelende paaie, weef deur die gejaagde motoriste, stoot verby die verskeie nywerhede - entiteite aangedryf deur die polsende energie van 'n stad wat iets het om te bewys.

Ek sien, in die verte, die mynhope van Germiston - droë, geel, opvallende duine van verlatenheid - waar vergete drome doodstil lê, ter herinnering aan 'n vorige tyd.

Johannesburg is dalk nie esteties-mooi nie, dink ek, maar onderlangs is daar 'n tasbare energie wat almal kan aanvoel.

Dis 'n onpretensieuese, onopvallende skoonheid - dis 'n skoonheid wat halfpad deur die proses besef het mooi is nie alles nie.


"Kom kuier bietjie vir my as ek weer in die Kaap is," kondig sy aan soos my motor by die lughawe stop.

"Ek sal", belowe ek halfhartig.


Ek laai haar tasse uit, soengroet haar, sien hoe sy deur die elektroniese skuifdeure stap. Dis jammer dat sy nie Johannesburg deur my oë kan sien nie.

Miskien sou sy dan besef hoe baie sy en dié stad gemeen het.


Op pad huis toe ry ek verby die warrelende middestad, deur die ou-wêreldse Greenside en Houghton, deur die kosmopolitiese Linden, die kunstige Melville. Daar is oral iets in die lug, 'n aura, 'n golflengte, iets wat jy sal verstaan as jy dit voel. Ek glimlag soos twee outjies op kratte 'n gumboot-dans by 'n verkeerslig doen.

Hoekom sien Leana nie hierdie raak nie? Miskien kyk sy, soos ek met die berg, net in die skadu vas? Miskien is dit iets wat sy net sal weet as sy dit voel?


Drie strate van my huis af, stop ek weer by 'n verkeerslig. Ek kyk op en sien 'n massiewe billboard van Tafelberg - 'n advertensie vir een of ander lugredery. Dit voel soos kismet. Vir 'n oomblik of twee word ek vasgevang deur die magiese, majestuese, imposante, plat klip en dit val my op hoe een landmerk sulke uiteenlopende emosies by mense kan uitbring.

Iets wat vir party mense 'n simbool van lig, hoop en verfrissing kan wees, kan weer vir ander 'n simbool van donkerte, onderdrukking en depressie wees.

(Ja, dink ek: miskien is dit iets om te onthou voor ons weer kwaad wil raak wanneer 'n ou standbeeld of monument in die kruisvuur is.)


'n Motor toet agter my, ek het nie die groen lig gesien nie.

In Johannesburg is daar nie tyd om deur skadu's ingesluk te word nie - almal wil vorentoe beweeg; almal veg vir hul spreekwoordelike plekkie in die son.


~ Germandt Geldenhuys



519 views

© 2018 - Sparrow Media

  • White Instagram Icon